|
|
|
|
Die Afrikaanse Taalmonument, Paarl , Suid-Afrika
1. OpdragMet die prysvraag van 1965 vir die ontwerp van ‘n Afrikaanse Taalmonument teen die suiderhang van Paarlberg is die volgende opdrag geformuleer: ‘Slegs die visuele, simboliese monument buite die dorp sal die onderwerp van hierdie prysvraag wees. Dit moet die wonder van ons kulturele en staatkundige opbloei (Republiekwording) versinne-beeld.’ Die monument of ‘n deel daarvan, moes sterk belyn wees, sodat dit van ver af sigbaar kan wees. ‘n Abstrakte ontwerp sou ook van pas wees. 2. Die terrein
|
Die monument en sy aantrede is direk ten suide van hierdie klipkoppie geplaas.
Die ontwerp deur argitek Jan van Wijk is geïnspireer deur die terrein en deur werke van twee van ons skrywers.
In 1914 het C.J. Langenhoven die groeipotensiaal van Afrikaans vergelyk met ‘n snelstygende boog, of in meetkundige taal omgesit, ‘n hiperboliese kromme.
‘As ons nou hier in die saal af ‘n ry pale sou plant, tien pale, om die laaste tien jaar voor te stel, en aan elke paal ‘n merk sou maak op ‘n hoogte van die vloer af ooreenkomende met die betreklike skryfgebruik van Afrikaans in die respektiewe jaartal, en ‘n streep deur die merke trek, van die eerste af hier naby die vloer tot by die laaste, daar anderkant teen die solder, dan sou die streep ‘n snelstygende boog beskryf, nie net vinnig opgaande nie, maar opgaande na ‘n vinnige vermeerderende rede. Laat ons nou in ons verbeelding die boog verleng met die tien komende jare van nou af. Sien u menere waar die punt sal wees, daar buite in die bloue lug hoog oor Bloemfontein, in die jaar 1924.’
N.P van Wyk Louw se Vernuwing in die prosa: Onder die hoofstuk, ‘Laat ons nie Roem nie’ sien die skrywer ons taal onder andere soos volg:
‘Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit die twee bronne; dit vorm ‘n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – die soms nog so ónhelder Afrika; hulle is albei groot magte, en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.’
‘… die … ontstaan van ons taal uit ‘n ouer taalvorm; … sy … uitbreiding in die ruimte; die boeiende, maar nie voltooide of voltooibare verfyning van Afrikaans as uitingsmiddel.’
‘Maar wat ons nooit moet vergeet nie, is dat hierdie verandering van land en landskap as’t ware aan die nuwe wordende taal geslyp, geknee, gebrei het, nuwe woorde, nuwe voorstellings laat verdwyn het, oor elke riffel en vou van die nuwe wêreldbeeld kon sluit. En so het Afrikaans instaat geword om hierdie nuwe land uit te sê soos geen ander Europese taal nie.’
In die uitsê van hierdie land, staan Afrikaans onver-vangbaar sterk teenoor Suid-Afrikaanse Engels en (die vroeër moontlike) Nederlands, en die Afrika-tale: Afrikaans wat aan sy konkrete kant staan teenoor die konkrete Bantoe-tale met hulle woordeskat vir die ‘sigbare en ervaarbare van ons land,’ en aan sy abstrakte kant teenoor die abstrakte van Engels. En tussen hierdie Weste en hierdie Afrika, staan Afrikaans as ‘n glansende werktuig’, ‘n tweesnydende swaard’.
‘Afrikaans kan vitaal bly alleen solank hy die draer van ons volle noodlot, van ons wete na albei kante toe bly solank hy konkreet en abstrak bly dink; solank as Europa en Afrika in hom lewe; Afrika wél, maar tog ook altyd Europa.’
‘Oor wat ons taal sal word, of oor wat van hom sal word, kan ons dus nie praat nie, behalwe met hartstogtelike verlange.’
Uit die omgewing met sy ronde granietrotse, uit die twee skrywers se beskrwyings van ons taal, uit die aarde waarin hy gevestig is, het hierdie monument gegroei.
Die monument verteen-woordig ons taal en kultuur tydens die periode van groei en ewolusie en erken die tale en kulture wat teenwoordig was tydens dié wordingsproses: sommige afkomstig van die Weste, ander van Afrika, een ook van die Ooste.
| ‘n SUILEGANG van drie elemente links, of wes van die aantrede geplaas, wat die helder Weste met sy tale en kulture versinnebeeld; strukture wat groot begin en teenmekaar staan, wat in ‘n afwaartse kurwe daal, en weer styg om die hooflyn van die monument te vorm. | |
| ‘n PODIUM met drie rondings regs, of oos van die aantrede geplaas, wat die magiese Afrika met sy tale en kulture voorstel, en wat ook in ‘n kurwe daal, om dan te styg en aan te sluit by die hooflyn. | |
| Waar hierdie twee kurwes bymekaar kom, word ‘n brug gevorm, wat die basis van die snelstygende boog uitmaak. Dit is die wording en die ontplooiing van die Afrikaans tot hoog bo in die blou ruimte. | |
| ‘n Taal en kultuur nóg westers nóg van Africa, naamlik Maleis, word voorgestel deur ‘n stomp muur, en hierdie element is só op die trapaantrede geplaas dat dit help om skaal te verleen. | |
| Saam met die hooftaalsuil, in dieselfde lewegewende waterpoel met borrelende fontein, staan die staat-kundige simbool, die republieksuil: bevry, maar tog nog in die omsluiting van en oop na Afrika, vry in vorm en voltooid gevorm uit die state van die weste wat hom help vestig het: ‘Twee tale, twee wedersyde bevrugtende kulture, maar één volk, wat sterk staan voor sy toekomstaak omdat hy in die brandende braambos van tyd, van ‘n Hoër Aanwesigheid weet.’ |
Die kurwes en rondings van die verskeie elemente is eerstens visueel deur middel van skaalmodelle bepaal, daarna omgesit in meetkundig krommes wat deur middel van ‘n rekenaar gekontroleer is ten einde die finale korrekte afmetings te verkry.
Hierdie afmetings is toegepas op ‘n koördinaatassestelsel (X- en Y-asse reghoekig op mekaar op die horisontale vlakke, en die vertikale Z-as wat die hoogtes aandui). Hierdie koördinate, drie vir elke bepaalde punt, is deur ‘n landmeter vanaf ‘n vaste punt (‘n rots) op die terrein uitgesit, ten einde die verskillende be-kistingstukke vir binne en buitevlakke op te rig. Voordat die beton gegiet is, is die betrokke area se koördinate weer eens ge-kontroleer, ten einde te ver-seker dat die verskillende punte, wat eintlik in die ruimte bepaal word, die korrekte is. Daar was 1 100 punte en dus 3 300 koördinate.
Die
bekistingsisteem het bestaan uit vertikale metaalversterkers of ruggrate met
horisontale geboë pypstukke (elkeen op die terrein gebuig volgens sy bepaalde
kromming) wat hulle verbind, met skeepslaaghout uitgevoer aan die betonsigkante.
Waar krommings te klein geword het vir die geboë pype (bokante van suile), is
spesiale bekistingvorms uit hout vanaf skaalmodelle gemaak.
Ná verwydering van die bekisting, is alle vlakke binne en buite met spitshamers of lugdrukhamers afgewerk, waardeur ‘n 2 tot 3 mm buitelagie verwyder is. Hierdie tydsame proses is deurlopend oor die boutydperk toegepas.
Die hoofsuil is ongeveer ± 57 m (186 voet) hoog, die republieksuil ongeveer ± 26 m
Die boutyd was 2 jaar.
Om in tydloosheid op sy plek die graniet van sy omgewing in gewapende beton gemaak, en met die gehamerde afwerking word gepoog omdie tekstuur van die omliggende rotse weer te gee.
Die produk is dus feitlik ‘n struktuur van handgemaakte graniet wat met sy effens onreëlmatige lyne, sy vorms met hul rondings, sy skadu- en ligspelings wat gedurig wissel, poog om die verfyning van ons taal as uitingsmiddel voor te stel en sodoende N.P. van Wyk Louw se woorde, ‘iets wat nie niks is nie’, te verbeeld.
|
|