|
Jouberthuis is geleë op 'n deel van die oorspronklike plaas, Uitvlucht en is in 1853 deur Pieter Gideon Joubert vir sy pa gebou. Dis ook hier waar drie lede van die Derde Deputasie wat Engeland in 1880 tevergeefs besoek het om die opheffing van die Anneksasie van die Transvaal te bepleit, oppad terug huis toe ontvang is. Hulle was President Paul Kruger, die bekende Boeregeneraal Piet Joubert en S.J. du Toit die eertydse Transvaalse Superintendent van Onderwys.
Gedurende die verwoestende vloed in 1981, het die deurdringende reën soveel skade aan die mure en dak van die huis aangebring, dat dit gesloop moes word. Die Trusteeraad het die murasie, wat al is wat oorgebly het van die oudste huis in Montagu, gekoop. Danksy die pogings van die Trustee-raad, kurator en die ondersteuning van die plaaslike gemeenskap, is Jouberthuis tot sy volle glorie herstel en vir die nageslag gered.
Dit is tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar in 1975 en op 14 Oktober 1983 deur die Staatspresident, Marais Viljoen geopen - twee en 'n half jaar na die vloed en 130 jaar nadat dit gebou is.
Die huismuseum beeld die lewensstyl van die laat 19de eeu uit. Die plakpapier in die Ken Birchkamer is spesiaal laat druk volgens 'n voorbeeld van die oorspronklike muurpapier wat in die kamer gevind is. Die elberta perskepitvloer in die kombuis is van besonderse belang omdat dit volgens 'n baie ou plaaslike metode gelê is.
Die besondere eetstel in die eetkamer is gebruik om middagete vir President Paul Kruger, Generaal Piet Joubert en S.J. du Toit voor te sit.
In die spens word die groot verskeidenheid gedroogde plante wat gebruik word vir navorsing in die inheemse medisinale planteprojek ten toon gestel. Olies, tinkture, aftreksels en so meer wat daagliks op die plase gebruik is, word ook uitgestal.
Die museum is die trotse eienaar van 'n unieke versameling handgemaakte porseleinpoppe deur Caroline en Jenny Mc Sweeney, wie se familie nog steeds op Montagu woon.
Daar is 'n interressante inheemse medisinale kruietuin agter die huis waar voorbeelde van 'n groot verskeidenheid plaaslike kruie gekweek word. Daar is ook 'n kwekery waar hierdie plante te koop is.
Diegene wat daarvan hou om te snuffel, sal nie teleurgesteld wees met die verskeidenheid in die Jouberthuis se winkeltjie nie.
|
|