Kwartaallikse Nuusbrief: Ou Sendingkerk

           Montagu Museum

Februarie 2000

Beste Museumvriende

Ja, die jaar 2000 gaan maar net soos die vorige eeu aan.  Alles het toe nie by die nulle vasgehaak nie!  Ek weet van 'n hele paar mense wat nog lank in die nuwe jaar in, aan opgebergte kosvoorrade gaan eet!

Die jaar 2000 is vir die museum van besondere betekenis.  Op 1 September 2000 word die Ou Sendingkerk se     25 ste  bestaansjaar as ons dorp se museum  gevier.  Ons beplan groot vierings, maar die geboue sal ook 'n nuwe baadjie moet kry vir die geleentheid.

Die ander groot gebeurtenis van die nuwe jaar, is dat die museum nou Internet en e-mail gaan kry.  Stadig maar seker kom ons nou by in die tegnologiese eeu!  Hier is tans 'n Kanadese vrou op die dorp wat vir Active               E-Commerce webbladsye bemark, waaruit mens self dan ook weer dollars kan verdien.  My BimBere het nou ook so 'n webtuiste gevind.  Sy het baie ure aan my bestee en my opgelei, sodat ek nou besig is om self vir die museum 'n webbladsy te skryf wat vir ons R1200 spaar.  Dit sal in Afrikaans, Engels, Duits en Frans wees!  Binnekort kan u op die Internet by
http://www.museums.org.za gaan rondsnuffel, en tussen SA se ander museums sal u Montagu Museum se webtuiste ook vind.  Ons nuusbriewe sal ook daarop verskyn.  So van die ander tale gepraat, ons museum se brosjures is nou ook in Duits en Frans vertaal.  As u dalk van oorsese besoekers weet wat die dorp besoek, kan u hulle gerus vir ons stuur!  My Franse vertaling is reggedokter deur  Paulette van den Bosch van Berg-en-Dal Shoppe en my Duitse vertaling is deur 'n vriendin met 'n M in Duits reggesien.  Baie dankie vir julle hulp!

Dit is met groot opgewondenheid dat ek uitsien na vanjaar se Internasionale Museumdag op 18 Mei.  Die bekende mev. Anne Haarhoff gaan gedurende die dag vir ons 'n werkswinkel kom aanbied waar ons gaan leer om uit talle ou foto's, knipsels & memorabilia,  'n pragtige album saam te stel, wat op 'n kreatiewe wyse jou lewensverhaal sal vertel.  Die koste is R180 per persoon (middagete / verversings ingesluit).  Omdat ons slegs 'n beperkte aantal persone sal kan akkommodeer, kan u gerus nou al u naam kom opgee en 'n deposito betaal indien u belangstel.  Die aand sal ons weer 'n interessante spreker by die museum se jaarvergadering hê, maar dis nog 'n geheim!

En nou is dit vir my heerlik om almal te bedank wat so ruim bygedra het ná ons laaste nuusbrief.                    Mev. Janine Strauss het vir ons 'n rol kontak gegee om biblioteekboeke mee oor te trek.  Die volgende persone gee roosbome vir ons museum se roostuin:  mevv. Jeanne Biesenbach, Esther Hofmeyr, Kate Westcott.  Dankie ook aan almal wat bottels muskadel gebring het vir die boekrestourasieprojek:  Oom Kenneth Knipe, mev. Hughes en Uitvlucht Wynmakery.  Twee museumvriende, Oom Jan Jordaan en ons nuwe Chinese vriend David Yam het elk groot bedrae geskenk vir die doel.  Mnr. Ortwin Bock van Kaapstad het nou reeds 13 boeke vir ons gerestoureer.  Die Statebybel alleen sou R500 gekos het, maar hy vra net R50 vir die stuk Marokkaanse leer.  Tot dusver wou hy nog net R100 hê om sy materiaalkoste te dek, maar hy was
BAIE bly vir die muskadel!  Vanjaar gaan hy vir ons 2 waardevolle Bybels wat erg beskadig is, restoureer.

Die hartseer nuus is dat oom Kenneth Knipe intussen ook oorlede is.  Hy was 'n ware museumvriend en 'n steunpilaar en ons harte gaan uit na tannie Helene en die familie.

Ten slotte 'n brokkie interressante nuus:  Ons museum se ovaal datumstempel was toe nie 2000-aangepas nie!  Na 'n groot gesukkel (en baie moeite van Niël en Zelma) het mnr. Bock  vir ons gereël om 'n nuwe staalbandjie vir 2000 + in die oorspronklike datumstempel te laat inbou - teen 'n BAIE goeie prys, en mnr. David Crocker het die rekening betaal…

Ek groet met 'n laaste gedagte:  As u op Maandag, 28 Februarie 2000 deur die tonnel ry;  gedenk daaraan dat dit op daardie dag 123 jr. is sedert Kogmanskloof aan Montagu toegang tot die buitewêreld bied!

Museumgroete

Kina Joubert