Kwartaallikse Nuusbrief:  Jouberthuis

Jouberthuis

Februarie 2000

Liewe Museumvriende

Die "groot dae" was propvol met lekker dinge, soos honderde & honderde besoekers, tonne vars vrugte net waar jy kyk en lang warm dae (en nagte, natuurlik ook).

Slegte nuus is die waterbeperking wat ingestel is hier op ons mooi dorp.  Gelukkig het ons 'n leiwaterbeurt Woensdae en dié water word nou gebruik om ons tuin vir die res van die week te lawe.  'n Sprinkel-stelsel is aangebring by ons klein kwekery.  Ons boerdery kom nou behoorlik op dreef:  by die Sendingkerk het ons 'n roostuin en 'n groot grasperk, by Jouberthuis 'n fyntuin en medisinale kruietuin en agter die Inligtingskantoor is ons appelkoosboord.  Graham en Ann English het die helfte van hulle tuingrond in Kerkstraat (plus die leiwater-beurt) aan ons geskenk.  Voorwaar 'n groot en praktiese geskenk!  Ons het al ons eerste appelliefies daar geoes.  Koos Joubert en Jurie Lombard staan ons by met raad, en Rocco ry gereeld ons tuinvullis weg.  Goeie museumvriende!

Vanjaar gaan ons baie hard werk en die restourasie van Jouberthuis begin vroeg in April.  Is daar van ons nuwe vriende wat talente het waarvan ons onbewus van is?  Ons wil graag ons restourasie 'n gemeenskapsprojek maak.

Verskeie nuwe vriende het lede van ons vereniging geword - selfs twee Vrystaters, Perry & Veronica Feldman van Parys nadat hulle kruie-tee en melktert geëet het.  Hartelik welkom aan julle almal.

Ons het 'n reuse (én gewigtige) skenking ontvang van Wally & Christel Whitehead, nl. die ou geldstelsel van Brink Broers Bpk.  Jurie en sy manne het dit vir ons gratis vervoer na die KWV-stoor.  Die idee is dat die stelsel later gevoeg word by ons B.B.B.-uitstalling en deur middel van 'n demonstrasie aan die kinders van vandag te wys hoe dié unieke stelsel vroeër gewerk het.

Ons het 'n nuwe fotograaf hier op ons dorp, nl. Hassner Pepler van Swakopmund.  Hassner werk aan 'n reeks fotos vir 'n latere uitstalling in die museum, nl Speelgoed van Toeka en Nou.  Beskik u oor 'n unieke speelding wat handgemaak is?  Hy wil dit slegs fotografeer.

Ons beplan 'n Brooddag op Saterdag, 25 Maart.  Madeleine van Biljon en Phyllis Soekoe sal dit aanbied.  Dit beloof om baie besonders te wees, en die demonstrasies word gekombineer met kruie uitstallings en 'n paar interessanthede word beplan.  Die koste beloop R60-00 vir die dag en sluit al die verrigtinge, asook 'n puik ete in.  Kaartjies is beskikbaar by Phyllis (614 2717) Jeanne (082 552 4545) en die uwe (614 1774).

Van kos gepraat - een van ons nuwe vriende David Yam is 'n  uithalerkok.  Hy wil graag vars sojamelk en soet-en-suursous deur Jouberthuis bemark om ons restourasiefonds te versterk.  Is daar enige van ons vriende geinteresseerd in hierdie twee produkte?

Laastens, (en amper die lekkerste) baie dankie aan Peter Joubert van die Strand - seun van Tannie Mimi Epsie - wat op Valentynsdag gebel het omdat hy aan iemand "baie gaaf" gedink het.  Jy het my jaar gemaak!

Kruiegroete, tot volgende kwartaal.

Blackie