'n Kultuurprojek van Distillers Korporasie

STELLENRYCK WIJN MUSEUM

Dorp Straat Stellenbosch

Tel: +27-21-8883588

Versameling
Gebou
Kaapse Wyn

Toegangstye

Die Versameling

Die geskiedenis van wyn is so oud soos die geskiedenis van mensdom. Die bereiding en genot van wyn het deur die eeue 'n tradisieryke kulturele neerslag gelaat. Verskeie voorwerpe, ryk aan hierdie kultuur, vorm deel van die versameling in die Stellenryck Wijn Museum.

Die bereiding van wyn deur die eeue word aan die hand van talle wynmaak - implemente geïllustreer. Die primêre rol van die wynpers in hierdie proses, word gesimboliseer deur die imposante laat 18de- eeuse Duitse wynpers voor die museum. Binne die Museum het talle voorbeelde van wynmaak - implemente 'n laaste, eervolle staanplek gekry in die wynkelder waar keurwyne rustig in ou vate verouder.

Saam met die veredeling van wyn is ook gebruiksvoorwerpe verfyn tot kunswerke in eie reg. Uit die antieke tyd is daar die seldsame Israeliese wynkruik van die 8e - 7e eeu V.C., en pragtige voorbeelde van wynamforas wat tydens die Griekse en Romeinse beskawings vir die berging en vervoer van wyn gebruik is. Die gebruiksartikels van silwer, glas en keramiek getuig van besondere vakmanskap, met prominente voorbeelde soos die 16de - eeuse Skandinawiese silwerdrinkbeker, die Japannese porseleinkruik uit die dinastie van Manji - Ten Wa (16de - eeuse Arita) en aantreklike voorbeelde van vroeë Engelse en Europese glas. Fyngegraveerde glasbokale uit die tyd van die V.O.C. en handgemaakte glas van die Ou Kaap met tiperende varingblaarmotief sluit aan by die unieke versameling van Constantia-wyne - sommige bottels met hul oorspronklike etikette.Die oudste bottel dateer uit 1791 - die goue era in die Suid-Afrikaanse wyngeskiedenis wat aan Groot Constantia sy wêreldroem besorg het.

Die Gebou

Die gebou waarin die Stellenryck Wijn Museum gehuisves word, is die ou wynkelder van die oorspronklike opstal van Lambertus Fick en later die Kriges - een van Stellenbosch se oudste en mees gesiene families. Die geboue-kompleks waarvan die woonhuis nou as kunsgalery ingerig is, dateer reeds uit die tweede helfte van die 18de eeu. Dit is gedurende 1971 geretoureer nadat dit in 1970 verklaar is tot Nasionale Gedenkwaardigheid.

Kaapse Wyn

"Heeden is Gode lof van de Caepse druyven d' eerste mael wijn gepaerst ende van de nieuwe most soo versch uyt de cuyp de proef genomen ...." so skryf ons volksplanter, Jan van Riebeeck, in sy Daghregister op 2 Februarie 1659, sewe jaar nadat hy die nedersetting aan die Kaap gestug het. Die eerste wingerdstokke is uit Frankryk en die Ryngebied ingevoer waar die verbouing en verbruik van wyn reeds eeue lank 'n tradisie was, 'n tradisie wat teruggaan tot die vroegste beskawings.

Goeie wyn is reeds in die tyd van Simon van der Stel aan die Kaap geproduseer. Die beroemde Constantia-wyne was geloof deur bekende figure soos Napeleon, Bismarck, Koning Lodewyk Filips van Franryk, Koning Frederick van Pruise, Alexander Dumas, Jane Austen, Baudelaire en Longfellow.

Die geskiedenis van Stellenbosch, die oudste dorp in die land, hou nóú verband met die ontwikkeling van die wynbou in Suid-Afrika. Simon van der Stel, wat die dorp in 1679 aangelê het, het sy kennis van wynverbouing op geslaagde wyse onder die nuwe toestande aan die Kaap toegepas. Die koms van die Franse Hugenote in 1688 en die kennis en ervaring wat hulle saamgebring het, het verder daar toe bygedra dat die wynbou aan die Kaap indrukwekkende vooruitgang gemaak het. Sedertdien het die Suid-Afrikaanse wynbedryf as geheel steeds ontwikkel sodat die gehalte van ons wyne vandag internasionaal erken word.

In ons eie land word steeds 'n  toenemende waardering vir ons goeie wyne en 'n belangstelling in ons wynkultuur geopenbaar, 'n kultuur wat reeds 'n belangrike deel van ons geestesgoedere uitmaak. Baanbrekerswerk is reeds in die opsig gedoen en Distillers Korporasie wil met die Stellenryck Wijn Museum graag sy deel bydra om hierdie kultuur verder te verryk.

Toegangstye

Maandag-Vrydag 09h00 - 12h45
  14h00 - 17h00
Saterdag en openbare vakansiedae 10h00 - 13h00

14h00 - 17h00

Gesluit op Sondae en kerklike vakansiedae

gegraveerde Hollandse bokaal, c. 1775
Gegraveerde Hollandse bokaal, c. 1775

erdekraffie,8de-7de eeu, v.C
Erdekraffie, 8e-7e eeu v.C.

wyn-amforas van klei, 2000 jaar oud
Wyn - amforas van klei, 2000 jaar oud

Italiaanse eikehout wynwa,gedateer 1850 - 1870

Italiaanse eikehout wynwa, gedateer 1850- 1870

"Grape Harvest" - Meissen porselein groep, (1860 - 1870)

""g"Grape Harvest" - Meissen porselein groep, (1860 - 1870)

 

 

srlogo.gif (16770 bytes)
 

Gaan na die Afrikaanse weergawe van die bladsye Go to the english version of the page

PageMistress
Technical Support
This site is part of the Boland Museums Online

All rights reserved
Content and Images Copyright © 1999  Stellenryck Wijn Museum
Web Site Design © The Taboo Tree
This site is hosted by Mweb